Dana Snyman – ʼn storie-sendeling

Dana Snyman sien homself as ʼn storie-sendeling, iemand wat alles doen wat hy kan om die evangelie van stories uit te dra.

“Mense het stories op ʼn manier net so nodig as wat hulle brood en water nodig het om te kan leef,” sê die bekende storieverteller.

Wat In die Bloukamp, sy agste boek, anders maak is dat dit geïnspireer is deur sosiale media.

“Facebook is ʼn wonderlike plek om mense se stories te sien,” sê Dana. Hy het ʼn paar jaar gelede begin om stories op sy Facebook-bladsy te deel. Al die positiewe reaksie van die publiek het hom geïnspireer om ʼn bundel uit dié inskrywings saam te stel.

Nadat hy as misdaadverslaggewer by Beeld gewerk, het Huisgenoot en die reistydskrif Weg gevolg. As joernalis het hy Suid-Afrika platgereis en menigte mense ontmoet. Deesdae is Dana meer as gelukkig in Jacobsbaai aan die Weskus met sy drie honde. Hy is nou ʼn voltydse vryskutskrywer.

Dana het die vermoë om stories te vertel wat nostalgie opwek en hy gebruik sentimentaliteit in sy stories wat baie Afrikaners waardeer en wat soms ʼn traan uitlok. Op dié manier het hy ʼn volksliefling geword.

Hy beantwoord dieper vrae met geesdrif en is passievol oor die rol van stories vertel met woorde, eerder as beelde.

“Die geskrewe woord moet toenemend buig voor die visuele media. Daar is baie redes daarvoor, maar soms dink ek dis sommer net luiheid en gemaksug.”

Dana voel in Suid-Afrika se huidige politieke omstandighede moet Afrikaanse storievertellers “toenemend sensitief wees vir wat [hulle] sê.”

Hy meen dat mense deesdae dit makliker vind om ander te beskuldig wanneer hulle, hulle vrese uitspreek in die openbaar, en dat ons met meer simpatie en takt na mekaar moet begin luister.

“Die tong en die oor is vir my ewe belangrik.”

Hy voeg by dat Woordfees nog van altyd af sy gunstelingfees was; vir die min lawaai, sinvolle gesprekke, en dít boonop nog in ʼn mooi dorp.

 

 

Advertisements